News Article


Verbeter jou kind se wiskundevaardighede en -slaagpunt met aanlynklasse vir meer beroepsopsies

access_time Posted on Tue, Jan 11, 2022 7:23 AM


Van die ongeveer 600 000 kandidate wat in 2020 matriek geskryf het, het ‘n skamele 5,3% leerders 60% of meer vir wiskunde behaal. Met ‘n slaagsyfer van slegs 30%  –  wat deur net 125 526 leerders behaal is –  kan ons duidelik sien dat wiskunde in ‘n krisis is. Wiskunde is ‘n intreevak vir hoëronderwys en beroepsmoontlikhede wat belangrik is vir enige land se ekonomiese ontwikkeling en groei. Ons sal nog moet sien of 2021 se matriekuitslae enigsins beter is.

Hoekom is daar soveel leerders wat met wiskunde sukkel en dan dikwels eerder wiskundige geletterheid neem as ‘n “makliker alternatief”, wat hul opsies vir beroeps- en studiemoontlikhede aansienlik verminder? Volgens Gerda Van der Merwe van die aanlynplatform YouCanDoMaths, wat wiskundeklasse aanlyn aanbied, is daar verskeie mites rondom wiskunde sowel as swak gewoontes wat verhoed dat leerlinge met hoër punte slaag. Gelukkig kan hierdie krisis met die regte ondersteuning en hulp die hoof gebied word.

“Die feit is dat om goed in wiskunde te doen, moet leerders hard oefen en, nie net gedurende eksamentye nie. Deur slegs wiskundeklasse by die skool by te woon bied meestal nie genoeg tyd aan leerders om sleutelbegrippe te verstaan nie. Groot klasse beteken ook minder onderwyser-leerder tyd en ongelukkig het die pandemie klastyd en toegang tot onderwysers verder beperk. Talle leerders sal baat vind by ekstra tyd om lesse en belangrike konsepte te hersien, teen hul eie pas”, sê Van der Merwe.

YouCanDoMaths wat nou 10 jaar oud is, het reeds meer as 17 000 leerders van graad 7 tot 12 gehelp. Hierdie bekostigbare aanlynplatform vir wiskunde gebruik leermateriaal in beide Afrikaans en Engels. Die lesse wat uit onderrigvideo’s, notas en meertallige toetse met uitgewerkte antwoorde bestaan, is ten volle inlyn met die KABV (CAPS)-kurrikulum vir die Nasionale Senior Sertifikaat en die Onafhanklike Eksamenraad (IEB).

“Ons is nou behoorlik in die vierde industriële revolusie (4IR) en leerders wat vandag matriek skryf, sal kodering, robotika, kunsmatige intelligensie (KI) en gevorderde tegnologie goed onder die knie moet hê. Hierdie leerareas is almal gebou op die wiskundige beginsels van differensiaalrekening (calculus), statistiek en algebra. Leerders wat nie wiskunde goed slaag nie, mag in die toekoms ’n groot agterstand hê”, sê Van der Merwe.

Suid-Afrika se hoë werkloosheidsyfer skets glad nie ‘n rooskleurige prentjie nie. ’n Fokus op die verbetering van wiskundevaardighede sal nie die probleem oplos nie, maar kan beslis help. Om dit in perspektief te stel, teen hierdie jaar (2022) sal 75 miljoen werkgeleenthede nie meer bestaan nie en deur 133 miljoen nuwe soorte werkgeleendhede, met wiskunde as kern, vervang word.

“Wiskundevaardighede raak net al hoe gesogter soos wat die vierde industriële revolusie (4IR) vorder en ons as land kan doodeenvoudig nie aan die vraag voldoen nie”, sê Van der Merwe.

“Onderwys is ’n proses, nie ’n eenmalige gebeurtenis nie. Dít is veral waar van wiskunde, ’n vak wat voortdurend bou op kennis wat die leerder in vorige jare geleer het en waar leerders tyd nodig het om konsepte in te neem en te bemeester. Jy KAN wiskunde doen, maar moenie bykomende hulp tot op die laaste nippertjie uitstel nie. Die gholflegende Gary Player het eens oor sy sukses gesê, “The more I practice the luckier I get.” Dít is ook waar van wiskunde: hoe harder jy oefen hoe beter sal jy vaar. 

Dis die begin van ’n nuwe skooljaar en ouers én leerders word aangemoedig om te verstaan hoe belangrik dit is dat leerders wiskunde van die begin onder die knie kry en slaag met ’n punt wat veel hoër as die minimum van 30% is. Dié minimum sal hulle beslis nie toelating tot ‘n universiteit of ‘n tersiêre instelling van hulle keuse gee nie.”

“Natuurlik is almal nie wiskundig aangelê nie, maar YouCanDoMaths se aanlyn-lesse kan beslis jou kind se wiskundevaardighede verbeter. Leerders werk tuis, teen hul eie pas en doen lesse wat presies in lyn is met dít wat hulle in die klaskamer leer. Verder, meeste mense is onder die indruk dat ekstra wiskundelesse geweldig duur is; YouCanDoMaths maak lesse bekostigbaar omdat die basiese maandelikse tariewe dieselfde is as die standaard uurlikse tariewe wat talle verskaffers van ekstra lesse hef.

Skole en sentrums wat privaat lesse gee, kan ook leerders grootmaat  teen ’n verlaagde tarief inskryf. Onderwysers en tutors kan hul klasse registreer en toegang verkry tot al hulle leerders se vorderingsverslae.”

Met 10 jaar agter die rug, is YouCanDoMaths ‘n betroubare aanlyn-organisasie wat reeds duisende leerlinge ’n beter begrip van wiskunde help ontwikkel het.

Vir meer inligthing, pryse en om te registreer vir onmiddelike toegang, besoek www.youcandomaths.co.za.